Deel Jou Storie

Share
Deel Jou Storie

Hallo Mamma,

Regte stories. Regte mammas. Regte tieties.

Borsvoeding kan mooi, uitputtend, pynlik, snaaks, bevredigend, frustrerend—of alles op dieselfde tyd wees.

Eina, Tieties! is ’n Afrikaans blog vir mammas wat regte borsvoedingsstories deel. Nie die perfekte, gepoleerde weergawe nie, maar die eerlike een.

Jou storie maak saak.

Of jy vir een voeding, een dag, een week, ses maande, twee jaar, of enige tydperk tussenin geborsvoed het—jou storie maak saak.

Miskien het borsvoeding maklik gekom. Miskien nie.

Miskien het jy jou borsvoedingsdoelwitte bereik. Miskien het jou reis vroeër geëindig as wat jy gehoop het.

Miskien het jy elke oomblik geniet. Miskien was daar dele wat jy gehaat het.

Wat jou ervaring ook al is, jou storie verdien om gehoor te word.

Die doel van Eina, Tieties! is eenvoudig: om ’n ruimte te skep waar mammas hul ervarings kan deel en ander mammas kan help besef dat hulle nie alleen is nie.

Ek soek eerlike stories oor:

Jou borsvoedingsreis, verwagtinge vs werklikheid, Die eerste latch, die eerste week van borsvoeding, die eerste week by die huis met baba, tongue tie, reflux, swak gewigstoename, Pynlike latch en seer tepels, Lae melkvoorraad-kwessies, Groeispruite en gereelde voeding, borsvoeding na ’n moeilike geboorte, Terugkeer werk toe terwyl jy borsvoed, Pomp-ervarings, kombinasievoeding, Speen, Snaakse borsvoedingsmomente. Enige uitdaging, les of oorwinning uit jou borsvoedingsreis

Jy hoef nie ’n skrywer te wees nie. Jou storie hoef nie perfek te wees nie. Dit moet net joune wees.

Stories kan in Afrikaans of Engels ingestuur word. As jy in Engels skryf, sal ek dit graag in Afrikaans vertaal voor publikasie.

Stories kan kort of lank wees en kan met jou naam, net jou voornaam, of heeltemal anoniem gepubliseer word, met jou ouderdom.

Deur jou storie te deel, kan jy dalk ’n ander mamma help wat sukkel, aan haarself twyfel of wonder of wat sy ervaar normaal is.

Want soms is die kragtigste ding wat ’n mamma kan hoor: “Ek ook.”

As jy graag wil bydra tot Eina, Tieties!, stuur asseblief jou storie vir my na hallo@einatieties.co.za. Ek sal dit met eer deel.

En as jy dit lees en dink aan ’n vriendin wie se borsvoedingsreis by jou opkom, stuur asseblief hierdie uitnodiging vir haar aan.

Of haar storie vreugdevol, hartseer, snaaks, ingewikkeld, kort, lank of êrens tussen-in is—dit kan dalk presies die storie wees wat ’n ander mamma nodig het om te hoor.

Want elke borsvoedingsreis maak saak <3

Blog bestuur deur 'n Millennial Mamma wie Millennial Afrikaans praat 😉

[Dieetkundige, RD(SA) en Borsvoedingskonsultant, SACLC]